Following from Louise F Venter
Die storie oor die Higgs-familie gaan sover terug as 1822. Op 3 Desember 1822 is James in Engeland in die provinsie Kent gebore. Ons weet ongelukkig nie wie sy ouers was nie.
1. JAMES JACOBUS HIGGS het as jong seun saam met sy twee susters per skip na Suid-Afrika gekom. Hulle het om en by 1835 as Britse Setlaars aan wal gestap by Algoa Baai. Hy het die laaste deel van sy lewe op Brakfontein deurgebring by sy seun Willem. Hy is oorlede gedurende 1903. Hy was getroud met CHRISTINA JOHANNA ROUX. Sy is gebore op 12 Maart 1828 en oorlede in die jaar 1901. Hulle is getroud op 17 Augustus 1846. Hulle het twaalf kinders gehad. Ons Higgs voorsaat was die vierde oudste kind, nl. Willem, gebore 30 Maart 1853 (Oupa Rollie).
2. Willem Higgs is gebore op 30 Maart 1853 en hy het die plaas Brakfontein by Johannes L. Pretorius gekoop op 3 Julie 1893. Volgens oorlewering was Willem eers ‘n voorman op hierdie Plaas. Hy is op 9 April 1877 met Elsje Carolina Liebenberg getroud. Sy was alom bekend as ouma Ellie.
Elsje Carolina is gebore op 20 November 1859 en volgens die inskrywing in die familie Bybel is die plek van haar geboorte Nieuwekraal. Ongelukkig is daar geen inligting oor haar bekend nie, net dat sy nege kinders gehad het en oorlede is op 16 Mei 1918.
3. James Higgs, gebore op 8 Januarie 1880 en oorlede op 19 Augustus 1942 was sover ek weet die tweede oudste kind en oudste seun. Hy was die volgende erfgenaam van Brakfontein. [Brakfontein is die Higgs familieplaas by Higgs Hope naby Prieska]. Meeste Higgs is ook daar begrawe. James was my pa se oupa aan moederskant. Gedurende 1926 het een van James se skaapwagters 'n diamant opgetel op die plaas. James het hierdie diamant van 48 karaat vir £800 verkoop. Na hierdie gebeurtenis was die gort gaar en die “second rush” het in 1926 plaasgevind. Die delwers het Die Bult of Higgshope, soos die afgebakende stuk grond bekend gestaan het, oorstroom.
4. James Higgs is getroud met Gertruida Catherina du Plessis). Sy is gebore op 16 Oktober 1879. Volgens oorlewering het haar oupagrootjie na Suid Afrika gekom net voor die Franse Revolusie wat in 1789 plaasgevind het. Getruida Catherina was alom bekend as “Gerty” (my pa se Ouma). Sy is in Hopetown aan longontsteking oorlede op 10 September 1938.
5. JAMES HIGGGS en GERTRUIDA CATHERINA du PLESSIS het sewe kinders gehad.
6. Ellen Carolina Higgs (my pa se ma) is gebore 20 November 1908 – 22 Januarie 1962 en was die derde oudste kind.
Sy was getroud met Abe Maartens (dis hoe almal my Oupa blykbaar geken het – ek het meeste van die inligting by my pa se niggie, Elise Higgs Nel, gekry. Sy is my Ouma Dolly se broerskind). Blykbaar was Oupa Abe ‘n flashy ou en Ouma kon sy swart krulhare en wit langbroeke nie weerstaan nie. Hulle het die eerste ruk na hul troue op Deput, een van haar Pa (James Higgs) se plase gebly om met die boerdery te help. Maar Abe was nie ‘n boer nie en so is hulle later na Hopetown waar hulle hul twee kinders grootgemaak het. Haar Pa het vir hulle ‘n huis laat bou van sink en hout en die adres was Queenstraat 16. Voor was ‘n hoë stoep met die fyn “lacewood” (houtstrokie kantagtig afgewerk) onder die verande.
Volgens Tannie Elise, het hulle maar min van die Maartense geweet aangesien Abe en Dolly maar heeltyd in Hopetown distrik was. Niemand is seker hoe hulle ontmoet het nie.
Volgens my pa se vertellings was sy Pa ‘n rustelose, avontuurlustige mens. Daarom dat hy miskien besluit het om tydens die Tweede Wêreldoorlog aan die kant van Smuts se SA Geallieerdes te gaan veg in Noord-Afrika. Volgens my pa was hy ‘n vlieënier, maar ek kon dit nog nie bevestig nie. Miskien kan jy Dewald. Sal interessant wees om hierdie deel van Oupa Abe se lewe na te vors. Ek weet nie waar om te begin nie.
Abe het blykbaar vrot water in Noord-Afrika gedrink tydens die oorlog en is aan iets soos maagkoors dood. (Dit is volgens my Pa, maar ek kan dit ook nog nie bevestig nie).
My pa het altyd ‘n groot verlange na sy Pa gehad omdat hy hom nie eintlik geken het nie. Abe is dood toe my pa maar vier was. Hy was wel baie na aan sy Ma, aangesien hy en sy ‘n groot deel van hul lewe alleen in Hopetown gewoon het. Sy suster is jonk getroud en uit die huis.
Dolly het na Abe se dood blykbaar in die Koöperasie as boekhoudster gewerk. Ellen was haar lewe lank bekend as Dolly. Sy is in 1960 aan keelkanker oorlede.
Twee kinders is uit die huwelik gebore. Trudy was die oudste en was getroud met Gielie van Niekerk maar later geskei. Haar twee kinders is Ellen en Pieter. Sy is later weer getroud met Martiens van Staden. Geen kinders. Trudy is in Pretoria oorlede, skaars ‘n paar dae na Martiens se dood. Hulle was baie na aan mekaar.
7. Abe se seun, Peter Stephen Higgs Maartens, het in Pretoria, later in Upington, daarna vir tien jaar in ou Suidwes Afrika, Bethal in Mpumalanga en uiteindelik weer sy laaste jare in Pretoria deurgebring. Hy het sy pa se sin vir avontuur en lewenslus gedeel en was groot diereliefhebber, veral duiwe. Hy is ook in Pretoria getroud met Gezina Johanna Maria Fouché (Fouchini) en hul het twee kinders, Anton Stephanus, gebore 17 November 1967, en Louise-Fouchéén (gebore 25 Mei 1972).
Pieter het as kind baie vakansies op Nuwejaarskraal (by sy aangetroude Louw-familie) deurgebring en was baie lief vir Nuwejaarskraal se mense in Prieska district. Hy is gebore op 9 Januarie 1943 en oorlede op 21 Januarie 2003. Sy grafskrif is Psalm 55 vers 7.
Ongelukkig het my pa grootliks na sy pa se dood kontak met sy MAARTENS familie verloor, waarskynlik omdat Ouma Dolly maar na aan haar familie gebly het. Maar my ma onthou dat hulle wel tydens hul wittebrood die Maartense besoek het. Sy onthou vir Ouma Maartens as ‘n baie statige vrou. My pa het ook sy pa se erfporsie van sy Ouma Maartens ontvang toe hy 21 geword het. Volgens Fouchini was Oupa Maartens ook lid van die Volksraad op ‘n stadium, maar ek kan dit nie bevestig nie.
Pieter was hartseer oor die feit dat sy ma haar familieplaas Gannabospan moes verkoop na Abe se dood.
Aangesien Pieter maar nog ‘n skoolseun van 17 was toe sy ma, Dolly, ook oorlede is en sy suster toe reeds ‘n eie lewe gehad het, was hy maar grotendeels afhanklik van haar familie. Pieter het na sy ma se dood in Hopetown matrikuleer en het in die Hopetown koshuis ingewoon. Sy oom James Higgs blyk sy voog te gewees het en volgens wat hy ander meegedeel het, was hy goed versorg.
Hy het homself as ‘n joernalis bekwaam.
Pieter het soveel mooi herinneringe aan sy tye op Nuwejaarskraal gehad waar sy ma se suster STELLA wat met ‘n JACOBUS LOUW getroud was, gewoon het, dat sy vrou en kinders na sy skielike dood besluit het om hom langs sy neef, JOHAN LOUW, wat vir hom soos ‘n eie broer was, in die Louw familiebegraafplaas te begrawe.
Hy was baie lief vir Tannie Stella en Tannie Joyce (Ouma Dolly se twee jonger sussies) wat hom met baie deernis en liefde behandel het regdeur sy lewe. Hy het ook baie mooi herinneringe aan Oom Kobie Louw, wat hy in baie opsigte (dalk sonder die Louws se wete) as ‘n Vaderfiguur gesien het.